van niekerk en krupp implemente landbou hugo ehlers landbou plaas boer machinee 

 

    TUIS    

    ProduKTE    

    kontak   

 

 

 

Piket GESKIEDENIS

VAN NIEKERK & KRUPP : DIE STIGTING 1933
(Geskryf in 1987)

Die maatskappy Van Niekerk & Krupp is in 1933 op Eendekuil gestig met ‘n gesamentlike kapitaalbydrae van £500. Maar wat het aanleiding gegee tot die stigting?

S. Krupp het ’n winkel op Eendekuil gehad. S. Krupp het die serwituut gehad vir die enigste winkel op Eendekuil. Terselfdertyd het HAC van Niekerk ’n meulmasjien en ’n dorsmasjien bedryf ook onder ’n serwituut. Die wyse waarop S. Krupp en HAC van Niekerk by mekaar uitgekom het, is die feit dat albei hulle grond vir hul onderneming en die serwituut van dieselfde persoon verkry het naamlik Christiaan Burger. C. Burger het die meeste grond in Eendekuil besit en onder andere die stasie-gronde is deur die Spoorwee by hom gekoop. S. Krupp en HAC van Niekerk het die behoefte gesien vir ’n onderneming wat landboukundige dienste kon lewer en so het Van Niekerk & Krupp die lig gesien. Landboumasjinerie is herstel, handel is gedryf in landboumasjinerie en koring is steeds gemaal om maar enkele van die aanvanklike aktiwiteite te noem.(1)

Teen 1937/8 het daar egter ’n einde gekom aan die koringmalery. Die regering het ‘n £sd 10 subsidie op elke sak koring wat gemaal word geplaas. Baie strenger staatsbeheer oor die maal van koring het die lig gesien. Van Niekerk & Krupp het egter nie ’n lisensie vir die maal van koring gehad nie en het dus nie ’n subsidie gekry nie. Dit het beteken dat Van Niekerk & Krupp meel vir goedkoper moes verkoop as waarvoor hulle koring aangekoop het. (2)

VERHUISING NA PIKETBERG

Daar was hoofsaaklik twee beweegredes vir die verhuising na Piketberg. Eerstens, met die stigting van Van Niekerk & Krupp het die handelslisensie van S. Krupp ook Van Niekerk & Krupp s’n geword. HAC van Niekerk het dus nie voor die stigting van die maatskappy ’n handelslisensie besit nie. Teen 1943 het dit tyd geword dat C. Burger die kontrak met S. Krupp vir die handelslisensie hernu. C. Burger is egter ten kwade beinvloed deur sy skoonseun wat self graag ’n winkel op Eendekuil wou begin en het geweier. Van Niekerk & Krupp het dus nou sonder ’n handelslisensie gesit en moes iewers heen. Tweedens, het Eendekuil baie min geleentheid vir groei teenoor Piketberg gebied, maar wie weet miskien was Eendekuil vandag groter as Piketberg as Van Niekerk & Krupp aangebly het.

Een van die Van Niekerk-broers (JCH) beter bekend as Oom Calla het die onderneming oorgeneem en het later ’n winkel daar begin nadat addisionele besigheidsregte betaal is. Die erf was terloops vier morg groot. ’n Ene meneer Rossouw het die meulhuis en die woonhuis van Van Niekerk & Krupp oorgeneem.(3)

Die huidige perseel (op Piketberg) is vir £ 2 000 gekoop en geen besigheidsregte was betaalbaar nie. Op die stadium het alle erwe op Piketberg besigheidsregte gehad.

AANVANKLIKE STIGTERS EN LATERE AANDEELHOUERS:

Aanvanklike stigters:

Van Nieker & Krupp is soos reeds vermeld deur S. Krupp (Oom Sam) en HAC van Niekerk (Oom Hennie) gestig. Beide van hulle was die besturende direkteure. (1)

Soos verwag word was S. Krupp grotendeels in beheer van verkope en HAC van Niekerk meer in beheer van die diens aspek.

Latere aandeelhouers:

Teen 1943 met die verhuising na Piketberg het die aandeelhouding, uitsluitende die twee besturende direkteure, soos volg daaruit gesien: In 1935 het C.J.A.F. van Niekerk by die maatskappy aangeluit. Oom Chris was verantwoordelik vir die pos van rekenmeester tot 1947. Van toe af het hy invoere en korrespondensie hanteer. In 1936 het W.H.N. van Niekerk by die maatskappy aangeluit. Oom Willem was aanvanklik verantwoordelik vir die draaibanke en werkswinkels, maar is later betrek by die onderdele afdeling.

AGENTSKAPPE (AANVANKLIK EN LATER) MET BETREKKING TOT LANDBOU:

Met die stigting van die maatskappy is die Malcomess agentskap dadelik verkry vir die verkoop van Allis Chambers trekkers en ander masjinerie en Sunshine stropers. Die agentskap van Lloyds & Kie vir die verkoop van John Deere selfbinder is ook verkry. Teen 1947 is regte van J I Case in Amerika vir die invoer van trekker en implemente verkry en die bogenoemde agentskappe moes plek maak. Vanaf 1942 is geen landbou implemente ingevoer nie vanwee die oorlog. Teen 1947 het Van Niekerk & Krupp dus baie goed gedoen met die verkoop van landbou-toerusting, omdat die Groot Meganisasie eers teen 1939 begin posvat het en na die tekort gedurende die oorlog was die vraag na landbou-toerusting dus groot. (1)

Teen 1949 was die Amerikaanse geldeenheid (die Dollar) se waarde ongeveer 49% meer as voor die oorlog. Die Europese lande se ekonomieë het verswak en selfs Engeland was in groot moeilikheid. Die gevolg hiervan was dat Amerikaanse trekkers onbetaalbaar duur begin word het. Teen 1952 kon ’n Fordson diesel trekker vir £ 1 00 gekoop word teenoor die Case paraffien trekker vir £ 1400! Van Niekerk & Krupp was dus bitter vinnig besig om veld te verloor en moes plan maak. Die regte van Volvo in Swede vir die invoer van Volvo trekkers vir Kaapland is verkry. Tradisionele Amerikaanse maatskappye soos John Deere het ’n fabriek in Duitsland gaan oprig en McCormick het ’n fabriek in Engeland gaan oprig waar Fordson reeds gesetel was.

 
 

Die agentskap vir Massey Harris implemente uit Torondo Kanada is in 1960 aan Van Niekerk & Krupp toegeken. Volvo trekkers was net nie meer kompeterend nie. Massey Harris het self hul bemarking in Die Unie van Suid-Afrika gedoen, maar het weldrae die bemarking aan Malcomess oorgelaat. Later is die Perkins maatskappy en die Ferguson maatskappy deur Massey Harris oorgeneem. Op die tydstip het Massey Harris wat later Massey Ferguson sou word weer hulle eie bemarking in Die Unie behartig. Van Niekerk & Krupp was die handelaar op Piketberg en Smuts & Koch was die handelaar op Malmesbury. Van Niekerk & Krupp is tot op hede Massey Ferguson handelaars op Piketberg.

 

 
  Tussen 1955 en 1975 is die alleenreg vir die invoere van die Franse pompe en enjins (Barnard) ook verkry.

Dit is ironies om daarop te let dat die ekonomiese toestande na die Tweede Wereld oorlog ’n baie groter invloed op veral Van Niekerk & Krupp gehad het as die berugte depressie. Die depressie het in werklikheid geen noemenswaardige invloed op die maatskappy se bedrywighede gehad nie. (1)

WAT HET VAN DIE KRUPPS GEWORD?

S. Krupp is op 23 Desember 1957 oorlede na ’n motorongeluk aan hoofbeserings. Hy was teen sononder onderweg vanaf Gouda na Porterville in ’n teruggeneemde Pontiac (van iemand wat nie die motor kon betaal nie – miskien het die persoon hom verwens) tot hy by ’n baie berugte knikkie uit die motor gegooi is – waarksynlik vanweë hoë spoed. Sy aandele is na sy dood deur sy vrou geërf. Sy en hulle kinders het na Kaapstad verhuis. Haar aandele is egter in Desember 1977 deur die oorblywende Van Niekerks gekoop. Dit is wel oorweeg om daarna die maatskappy se naam te verander, maar daar is om veral drie redes daarteen besluit:
1. Die maatskappy was reeds landswyd bekend onder die huidige naam.
(Dit is die belangrikste rede.)
2. Dit sou ’n groot omslomernis afgee om die maatskappy se naam te verander.
3. Dit sou ’n groot finansiële uitgawe afgee.


Met die dood van S. Krupp het Van Niekerk & Krupp ’n groot verlies gely. Oom Sam was wyd en suid bekend en daar loop ’n storie rond dat toe daar aan “die ou Jood” gevra is hoekom hy dan na die N.G.Kerk kom sy antwoord doodeenvoudig was: “Dit is goed vir die besigheid.!”

 
   
     
   
   
  En die ander aandeelhouers?:
W.H.N. van Niekerk (Oom Willem) is op 21 Februarie 1968 aan keelkanker oorlede.

H.A.C. van Niekerk (Oom Hennie) is op 8 April 1976 oorlede aan ’n hartkwaal waarna J.C.H. van Niekerk (Oom Carel) sy aandele geërf het.

Oom Carel het reeds in 1970 by Van Niekerk & Krupp aangesluit as werkswinkel bestuurder toe oom Salie van der Merwe afgetree het.(1)
 

WAT HET VAN DIE ANDER TAKKE GEWORD?

Met die stigting van die maatskappy was die eerste verkoopsman op Eendekuil Oom Giel Marais. Kort na die stigting is verskeie verkoopsmanne uitgeplaas te Ceres, Riversdal, Paarl, Heidelberg, Mosselbaai, Clanwilliam, Calvinia en Malmesbury asook Paarden Eiland. Teen 1954 is ’n volledige tak op Clanwilliam met G.P. van der Merwe as bestuurder, Malmesbury met Hennie Smit as bestuurder, Clanwilliam met Isak Koeglenberg as bestuurder en in Paarden Eiland met Josef Krupp – oom Sam se jongste broer – as bestuurder gestig. Alle takke behalwe Paarden Eiland het alle agentskappe soos die hoofkantoor op Piketberg hanteer. Paarden Eiland was egter net verantwoordelik vir die verkoop van tweedehandse implemente. Die hoof beweegrede vir die stigting van die ander takke was om die verkoopsmanne op die betrokke dorpe die nodige diens rugstening te gee.

Alle takke behalwe Paarden Eiland is egter in 1960 gesluit. Die Massey Harris agentskap het slegs vir Piketberg gegeld en die ander takke het basies niks gehad om te verkoop nie! Teen 1958 reeds het die Paarden Eiland tak implementverkope gestaak en begin met die vervaardiging van allooi klimlere en pluksakke vir vrugteboere. Die tak is weldrae aan J. Krupp verkoop en het bekend gestaan as J. Krupp en Co. Die maatskappy bestaan tans nog en het na ’n ander perseel verhuis.

VERVAARDIGING VAN IMPLEMENTE (PIKET):

Balers en saagbanke (soortgelyk aan die huidige Piket saagbank) is aanvanklik uit Australië ingevoer. Teen 1948 kon geen saagbanke egter meer verkry word nie en met enkele verbeterings het die beroemde Piket saagbank die lig gesien.

Damskroppe is uit Amerika ingevoer, maar die skroppe was nie suksesvol nie. Die damskrop was nie voldoende vir plaaslike toestande nie.(1)

Met wydlopende modifikasies en verbeterings het die duursame en bekende Piket damskrop die lig gesien.


Gedurende 1971 het Van Niekerk & Krupp die behoefte raakgesien vir eenrigting skottelploeë met springaksie op die skottels. Hulle het besef dat plaaslike vervaardigde implemente voorkeur sou geniet vanweë koste en geskiktheid vir plaaslike toestande. Twee prototipes is gebou en met welslae getoets. Teen 1973 het die eerste 10 produksiemodelle op die mark verskyn. Die reeks het weldrae uitgebrei en toevoegings is gemaak soos saadkaste wat addisionele implemente soos saaiers uitskakel. Daar kan dus geskottel en gesaai word met een implement.

’n Aartappeluithaler is ook ontwerp en met welslae bemark. Tans word die aartappeluithaler as ’n markleier beskou en daar word aan nuwe ontwikkelings soos ’n dubbelry uithaler wat die aartappels in kratte sal gooi gewerk.

 
 

Nog onlangse ontwikkelings en toevoegings tot die Piket-reeks is ‘ meganiese houtklower, aartappelsorteertafels en vele vele ander.(1)(4)(5)

DIE SUID-AFRIKAANSE EG-FABRIEK:

Leonardt’s eë word sedert 1922 vervaardig toe die fabriek begin is deur die stigter en ontwerper van Leonhardt’s eë, meneer Theophil Leonardt. Die fabriek was in Malmesbury gesetel. Teen 1935 is die private onderneming onder die huidige naam as S.A. Egfabriek geregistreer.(6)

Teen 1970 wou die oorspronklike stigter van die fabriek se erfgename nie voortgaan met die onderneming nie en die S.A. Egfabriek is aan Van Niekerk & Krupp op Piketberg verkoop waarna die fabriek van Malmesbury n Piketberg verhuis het. Tot vandag toe nog staan die eë bekend en die fabriek as die Suid-Afrikaanse Egfabriek.(1)

 

 
   
     
 

BESONDERE PERSONEELLEDE:

Oom Sakkie Burger (bekend as Oom Sakkie werkswinkel by ander lede van die personeel ) het 30 jaar diens gehad toe hy verlede jaar uitgetree het.

Oom Sakkie Burger (bekend as Oom Sakkie kantoor by ander lede van die personeel ) het tans 33 jaar diens.

Oom Hugo Ehlers het tans 31 jaar diens.

 

Die twee bekende Rossouw broers Oom Thys en Oom Alwyn het elk 36 jaar die alhoewel Oom Alwyn reeds die einde van verlede jaar afgetree het.

Selfs die huidige sekretaris van die maatskappy Oom Jan Langeveldt kom ’n lang paadjie saam (39 jaar) en hy het verkskeie beroepe binne die maatskappy beklee totdat hy bevorder is tot sekretaris.(7)(6)

Die meerderheid van die personeellede verklaar beslis dat hulle indien hulle hul lewe sou oorhê hulle keuse weer by Van Niekerk & Krupp as werkgewer sou val.

DIE DRAAIBANK-AFDELING:

Gedurende die voorraadtekorte van die oorlog is tot 60 tweedehandse stropers per jaar in die Transvaal en Oranje-Vrystaat deur Van Niekerk & Krupp gekoop, herstel en weer verkoop. Dit was egter ’n groot omslommernis om veral krukaste Kaapstad toe te stuur om gesny te word en om onderdele wat nie ingevoer kon word nie in Kaapstad te laat maak. Dis is waarom die draaibank-afdeling in 1950 die lig gesien het. Oom Arend Visser is as die eerste hoof van hierdie afdeling aangestel. Tans is Oom Hugo Ehlers in beheer van sake.

DIE ROL WAT ANDER ONDERNEMINGS IN PIKETBERG OP DIE KEUSE VAN AGENTSKAPPE GESPEEL HET:

Dit is teleurgesteld dat al die tonne en tonne inligting wat by ander ondernemings oor hul eie geskiedenis verkry is omrede die hopelose omslagtigheid met betrekking tot Van Niekerk & Krupp se geskiedenig nie hier geplaas kan word nie. Die onderhoude was werklik interessant.

Dit blyk dat die verskillende ondernemings elkeen hulle eie kop gevolg het en weinig met mekaar te doen gehad het. Daar was vir elkeen ’n plek in die son en geen ander onderneming het enige uitwerking op Van Niekerk & Krupp se keuse van agentskappe gehad nie.

BYKOMEND, OPSOMMEND EN ALGEMENE OPMERKINGS:

Bykomend:

Afgesien van die talle agentskappe wat reeds van melding gemaak is, was en word daar ook talle ander minder deurslaggewende agentskappe soos byvoorbeeld vir jare selfaangedrewe snymasjiene, Yamaha motorfietse, Venter sleepwaens en talle ander ook deur Van Niekerk & Krupp en Zebra Motors hanteer.

Opsommend:

Soos uit die werkstuk afgelei kan word het Van Niekerk & Krupp van ’n maatskappy met ’n kapitaalbelegging van slegs £ 500 gegroei tot ’n multimiljoenrand onderneming. Die maatskappy beoog steeds meer ontwikkeling, maar word soos talle ander ondernemings deur die uiters moeilike ekonomiese toestande huidiglik belemmer.

Algemene Opmerkings:

Gevolgtrekkings wat deur die samesteller van die werkstuk gemaak word weerspieël nie noodwendig die betrokke maatskappy se beleid nie.

Soos uit die voetnotas en bronnelys afgelei kan word was daar die die meerderheid van persoonlike onderhoude gebruik gemaak en in ’n baie mindere mate van geskrewe bronne. Daarom is dit verstaanbaar dat vanweë die wye tydspan daar datums, bedrae ens. Mag wees wat ietwat met die werklikheid mag bots. Sover egter moontlik was, is die gegewe inligting deur twee bronne bevestig.

Alhoewel daar gepoog is om ’n objektiewe beeld van die maatskappy te lewer is biejtie promosie soms onvermydelik.


(1) C.J.A.F. van Niekerk
(2) Piketberg van Riebeeck-fees Gedenkuitgawe, bl. 22.
(3) H. Carstens
(4) Leonardt’s eg pamflette
(5) Piket implemente pamflette
(6) Die Burger van 2 Desember 1983
(7) Bogenoemde personeellede

 

 

  
Tuis   |   Produkte   |   Kontak